Verskroeideaardebeleid

Resultaat van die verskroeideaardebeleid

Die Verskroeideaardebeleid is aanvanklik deur Frederick Roberts ingestel en later deur Horatio Kitchener uitgebrei gedurende die Tweede Vryheidsoorlog. Volgens hierdie beleid is byna al die Boere se plaashuise afgebrand, vee doodgemaak, lande aan die brand gesteek en die vroue en kinders is na konsentrasiekampe toe gestuur. In die kampe was daar onvoldoende kos en mediese dienste en in 1901 het ongeveer 25 000 kinders en 3 000 vroue in hierdie kampe gesterf.

Op 16 Junie 1900 het Lord Frederick Roberts in die middel van die Anglo-Boereoorlog ’n verwoestende plan beraam om die oorlog wat hy nie kon beëindig nie, te wen. Die taktiek staan bekend as die verskroeideaardebeleid en het ’n aanvang geneem toe proklamasie nommer 5 deur Roberts uitgevaardig is. Die taktiek het die afbrand van die vyand, in dié geval die burgers van die Boererepublike, se huise en plase behels. Dit is gedoen om “die lewe uit kommando’s uit te wurg” deur die voedselvoorraad, skuiling en morele ondersteuning wat hul huise bied, weg te neem. Dit is die grootste rede waarom die Boere dié oorlog verloor het.

Tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902) is ongeveer 48 000 mense as ’n direkte gevolg van die verskroeideaardebeleid dood. 30 000 plase is afgebrand en as gevolg van ’n tekort aan kos, morele ondersteuning en skuiling het baie Boere en burgerlikes hul lewens verloor. Om al die vroue en kinders wat gesterf het as gevolg van die beleid te herdenk, is ’n monument bekend as die Vrouemonument, in Bloemfontein opgerig. Emily Hobhouse was ’n kampvegter vir die Boerevroue en -kinders en het hulle ondersteun en in die konsentrasiekampe bygestaan. Sy het later ook gehelp om die algehele lewensgehalte van die vroue en kinders te verbeter.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search